Rietfontein
Sterre en Drome
Lyrics
My hart kwyn by Rietfontein
want die hek is gesluit
en ek dwaal terug in tyd:
Die groot rooi stoep
met wingerd prieel
en ons wat speel
oral op die werf
Ons is bederf
met biltong gekerf
en uit die groot kombuis
kom ouma se roomys
My hart kon gedy
as ek saam De Aar toe ry
en oupa- met sy kis vol Pine Nut - bly
Hy het helder geskyn
maar op Rietfontein, vandag
is hy letters op ‘n graf
Hy het gekom en gegaan
en soos altyd hou die aarde
maar sy baan
Die gees beswerf
die heelal as werf
met mense en vorms en ander
wat nog moet kom
en wat eendag sal blom
Hy het helder geskyn
maar op Rietfontein, vandag
is hy letters op ‘n graf
Hy het gekom en gegaan
en die aarde
hou sy baan
<< Vorige snit volgende snit >>
Musiek video
Plase en plaaslewe lê diep in die hart van baie Afrikaners.
Reg deur ons geskiedenis – van trekboere op afgeleë plaasopstalle – was daar altyd die vryheid van oop ruimtes, die stilte van die natuur en die warmte van ’n eenvoudige, landelike kultuur.
Die plaasopstal self was nog altyd die hart van daardie alleen lewe – ’n vaste punt in die uitgestrektheid, ’n oase van lig, kos en geselskap teen die groot stilte van die veld.
Hierdie gedig is ook ’n huldeblyk aan die Groot Karoo – sy uitgestrektheid, sy stilte, sy diepte. Dis moeilik om die Karoo regtig te beskryf; mens moet dit ervaar.
By Rietfontein is dit verpersoonlik deur Ernest Cawood (my oupa) en sy mense.
Net soos die pragtige opstal self, is ons as kinders tydens jaarlikse kuiers met groot liefde en sorg ontvang deur Jan en Anet Cawood.
Dit was eenvoudige, onvergeetlike tye vir ons gesin (Cynthia Cawood en Adre Zietsman- my ouers, en ek, Charlie en Johandie)