Stellenbosch
Berg op jou stoep
en die riviersig soet
Bergpaaie
vir ’n vinnige stap
of ’n skeppende uur
in wilde natuur
Energie in die lug
tussen Coetzenburg
en die ou hangbrug
Vrolike studente
en groot sportsterre
Soveel talente
van heinde en verre
[Chorus]
Stellenbos-
langs die eerste rivier
Stellenbos-
jou huise is duur
Stellenbos-
jou gees van plesier
met koffie of bier
straat kafee
en studente wee
langs die eerste rivier
Boomryke strate
Pragtige huise en
Pronkende skole
Alles simbole
van die idilliese lewe
waarna almal so strewe
Akademici
en wie ken wie
Denkers wat top
ander wat dop
Eerste klas-
soos Adam Tas
Wyne en restaurante
tussen wingerd lande
Rykes en grotes
met bates wat oop lê
Tek word beraam
in die skeppings hart
van Tegno Park
Stellenbos-
langs die eerste rivier
Stellenbos-
jou huise is duur
Stellenbos-
jou gees van plesier
met koffie of bier
straat kafee
en studente wee
langs die eerste rivier
« Vorige snit Volgende snip »
Ek bly al meer as dertig jaar op Stellenbosch — van my studentejare af.
Vir my is Stellenbosch veel meer as net ’n mooi dorp. Ja, die natuurskoon is ongelooflik, maar wat dit besonders maak, is hoe naby die natuur altyd voel. Jy kan letterlik oor middagete vinnig in die berge wees — op die paaie rondom Coetzenburg, Mostertsdrif of Paradyskloof, of die stilte van Jonkershoek gaan inneem. Die berge en bome voel amper deel van die dorp se asemhaling.
Ek het nog altyd gevoel die studente gee Stellenbosch sy unieke energie. Al die jong mense bring beweging, idees, drome en lewe — daar is iets oop en lig aan die atmosfeer, iets wat mens moeilik kan beskryf. Die dorp voel eenvoudig “high vibing”.
Die middedorp self het natuurlik ook ’n besondere karakter — die koffiewinkels, restaurante, mense wat buite sit en kuier, die spontane bierdrinkery enige tyd van die dag. Daar is altyd ’n gevoel dat iets aan die gebeur is. Musiek, kuns, wynfeeste en kulturele geleenthede vorm deel van die ritme van die plek.
En dan natuurlik die wingerde en wynplase rondom die dorp — van die mooiste landskappe in die land. Die wynlande, restaurante en oop ruimtes gee aan Stellenbosch ’n gevoel van rustigheid én styl tegelyk.
Daar is seker baie belangrike, slim en ryk mense hier ook, maar ek beweeg nie in daardie kringe nie. Vir my bly Stellenbosch eenvoudig net ’n ongelooflik mooi, lewendige dorp — ’n plek met hart, energie en asemruimte