Langebaan
Stil teen die land
aan die verkeerde kant
Ver wes geleë
is ons stilste see
Gety loop uit
tot ver en wyd
en kom weer terug
met ’n borrel rif
in diepste blou
waar die stroom vernou
En almal wat kom
is altyd verstom
oor jou water weë
en blou, blou see
ongeskonde natuur
en gees van plesier
Kraalbaai en Sharkbay
se strandmeer sande
turkoois waters
en groot sandbanke
en die Somerritme
by Pearlies en Roxies
voor Main beach
met mengel drankies
En almal wat kom
is altyd verstom
Oor jou water weë
en blou, blou see
ongeskonde natuur
en gees van plesier
Hul begeer jou wind
selfs in verre lande
wat hul altyd vind
in jou somermaande
Daar’s net iets in die lug
met die kleurryke sig
van vlieërs bo golwe
en borde wat dolwe
met skuim lawaai
vir die soveelste draai
Gees en bloed
word hier gevoed
met die water se krag
teen die wind en sy mag
En almal wat kom
is altyd verstom
Oor jou water weë
en blou, blou see
ongeskonde natuur
en gees van plesier
« Vorige snit Volgende snit »
Langebaan is een van die wêreld se mees gesogte watersportbestemmings — veral vir kite surfing. Dis ook een van die beste plekke ter wêreld vir kite-leerskole, want tussen Oktober en Maart waai die wind byna konstant, en feitlik enige windrigting werk hier perfek.
Die reuse, beskutte strandmeer maak dit ideaal vir alle vlakke van watersport. By Main Beach kry mens sterker wind en dieper water, terwyl Shark Bay bekend is vir sy vlak, warmer en rustiger water — perfek vir beginners en families. Maar Langebaan gaan oor veel meer as net kitesurfing. Dis ook ’n geliefde plek vir hengel, kajakvaart, seil en selfs langafstandswem.
Die natuurskoon is ongelooflik: die turkoois lagoon waarop mens oral afkyk, die Weskus Nasionale Park wat die gebied omring, die tropiese gevoel van Kraalbaai se warm water en sandbanke, en die wilde Atlantiese oop see aan die buitekant van die skiereiland.
Die dorp het ’n permanente gees van vakansie en plesier — vol kampeerders, reisigers en oorsese toeriste, veral kitesurfers, wat van oral af hierheen stroom. Plekke soos Pearly’s en Roxies het amper legendariese status, met hul strandatmosfeer en dansende kelners. So ook Friday Island en Wunderbar, waar die somerritme altyd leef.
Ons het al by seker veertig verskillende plekke hier tuisgegaan, maar die gevoel bly altyd dieselfde: soos jy oor die laaste bult inry en die eerste kites in die verte sien sweef, die vlae hoor klap in die wind en die blou water voor jou oopgaan — dan kan jy eenvoudig nie wag om weer op die see te kom nie. En tog is daar altyd daardie klein bietjie senuwees ook… die respek vir die wind en die see wat Langebaan so besonders maak Lirieke en artistiese leiding my eie.
Verskeie fotos (verwerk na waterverf m.b.v K.I) deur Anscha Zietsman en sommiges deur Frohan Visser. K.I gebruik om die musiek te skep.